In 'n land soos Suid-Afrika waar ongeveer 90% van die oppervlakte as aried en semi-aried geklassifiseer word, is die invloed van risiko op beplanning en besluitneming in die land baie groot en vind aksies gewoonlik plaas onder 'n toestand van onsekerheid en onvoldoende kennis.
Wat is risiko?
Risiko is die waarskynlikheid van skade of verlies en word in finansiële terme gedefinieer as die waarskynlikheid van 'n finansiële verlies. Dit kan die boerderyonderneming se huidige winsgewendheid, die finansiële welstand of die likiditeitsposisie beïnvloed, asook die satisfaksie en welstand van alle betrokkenes in die onderneming. Daarom moet die moderne boer die beskikbare tegnieke in die besluitnemingsproses in berekening bring om:
 die waarskynlikheid van die voorkoms van 'n negatiewe gebeurlikheid te verlaag, en/of
 die risiko oor te dra deur gebruik te maak van versekering of verskansingstrategieë, en/of
 die impak van 'n negatiewe gebeurlikheid, indien dit wel voorkom, te versag.
Twee tipes risikobestuurstrategieë word normaalweg op 'n plaas toegepas, naamlik op-die-plaas-strategieë en risiko-oordraging.
Risikobestuur behels eerstens die kwantifisering van risiko en die evaluasie van die effektiwiteit van verskillende risikobestuurstrategieë en maak gebruik van tyd en finansiële hulpbronne om risiko effektief te bestuur.
Tweedens is dit ook belangrik om risikobestuur in die regte konteks te plaas aangesien risiko en belonging gekorreleerd is. Geen boerderyonderneming kan enige opbrengs lewer sonder om risiko te neem nie. Die boer moet die afspeel tussen koste en die vermindering van risikoblootstelling en verwagte opbrengs op kapitaal evalueer. Die gekose strategieë sal varieer na gelang van die verhouding tussen die verskillende blootgestelde risiko's, die produsent se inkomste en welvaart (vermoë om risiko te verdra) en sy risikopersepsie.
Die verbetering van die produsent se risikobestuursvaardighede is verder van kardinale belang as daar gelet word op die menige veranderinge in die landboubesigheidsomgewing. Alhoewel hierdie veranderinge baie geleenthede skep, gaan dit ook hand-aan-hand met verhoogde risiko. Om 'n paar belangrike veranderinge uit te lig, die volgende:
 Verhoogde prysrisiko as gevolg van handelsliberalisering.
 Verhoogde produksierisiko as gevolg van verhoogde investering en kwaliteitsvereistes vir sekere produkte en strenger reëls met betrekking tot die gebruik van insette en medisyne vir diere.
 Verhoogde mobiliteit van mense en diere, diereprodukte en plante mag lei tot 'n toename in die verspreiding van plant- en dieresiektes oor nasionale grense en verhoog sodoende produksierisiko in plant- en diereproduksie.
 Klimaatsverandering sal ook produksierisiko beïnvloed, byvoorbeeld verhoogde frekwensie en intensiteit van sekere klimaatsgebeurlikhede.
Hierdie tweedagkursus bied aan die kursusganger die geleentheid om sy/haar risikobestuursvaardighede op alle vlakke en dissiplines binne kontantgewasverbouing te bemeester.
Die kursus word in vennootskap tussen die Universiteit van die Vrystaat se Sentrum vir Landboubestuur en Agri Risiko Spesialiste (ARS) aangebied.
|