Charles Smith, Agri TV-nuusbrief, 2005
|
'n Oogoopmaker
Só beskryf mnr. Andrew Barnes (66) die kort kursusse in finansiële bestuur wat deur die Sentrum vir Landboubestuur aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) hier aangebied is.
|
Nadat hulle 'n kursus in landboubestuur in Mei hier aangebied het, is dr. Wimpie Nell, bestuurder, en mnr. Petso Mokhatla van die sentrum versoek om ook 'n kursus oor die opstel van bedryfstakbegrotings vandeesweek te hou. Altesaam 21 boere het dit bygewoon. Eerste Nasionale Bank (ENB) borg die projek.
|
Die kursusse val saam met een van die grootste landbouprojekte vir nuwelingboere wat pas deur die Vrystaatse departement van landbou hier aangekondig is, naamlik 'n besproeiingskema van R15 miljoen. Altesaam 20 spilpunte van 10 ha elk gaan opgerig word om 200 ha uit die Rietrivier-kanaalskema te besproei en 40 mense sal hierby baat vind.
|
Die gemeenskap is daarby besig met 'n grondherverdelingskema sodat al die boere dieselfde grootte plaas sal hê. Dan sal die 37 000 ha in sowat 160 plase van 260 ha verdeel word.
|
Tussen 1 500 en 2 000 mense maak op hierdie grond 'n lewe, hoewel baie pensioentrekkers is.
|
Barnes, 'n veeboer, sê hy het 43 jaar in Johannesburg gewerk en woon nou die afgelope ses jaar hier. Hy woon die kursusse by om sy boerdery winsgewend en reg te bestuur.
|
"Dit is 'n oogoopmaker. Om sonder kennis te boer, is om agteruit te boer. Jy moet weet hoe om jou geldsake te bestuur, anders beland jy op die ashoop."
|
Hy het tans 427 ha waarop hy met 200 skaapooie en ook lammers boer. Ná die herverdeling sal hyook sy skape moet afskaal. Hy hoop die kursus kan hom help om die plaas steeds winsgewend te bestuur.
|
Mnr. Attie de Koker (54) is al 12 jaar 'n veeboer op Oppermans en boer hoofsaaklik met dorpers. Hy glo die kursus sal "beslis help om my boerdery te verbeter". Hy glo nie die 260 ha-plase kan volhoubaar wees nie, maar vertrou tog die kursus sal sy doel bereik, hoewel niemand "groot kommersiële boere sal word nie, maar tog volhoubaar wil lewe". "Soms gaan dit taai hier," erken hy. Veediefstal is 'n groot probleem en soms gebeur dit "van binne af".
|
Mnr. Jacobus Meyer (40), een van die bevoordeeldes in die besproeiingsprojek, sê veral werklose mense sal bevoordeel word. Hulle sal kommunaal hier boer en die wins deel.
|
Die infrastruktuur sal glo eersdaags (in Augustus) opgerig word. Die mikpunt is om 70 ha met aartappelmoere te beplant, wat deur Aartappel SA geborg word, en dan ook koring.
|
Hulle beoog 'n vennootskap met 'n kommersiële boer en om 'n mentor aan te stel. Die geld vir die mentor sal nie uit die R15 miljoen betaal word nie. Borgskappe word hiervoor gesoek. "Dit bied vir my 'n toekoms. Dit is 'n leerproses. Ek hoop om eendag 'n ander plaas te kan koop."
|
Mev. Kathleen Prinsloo (56) en haar man, Michael, boer van 1998 op 'n plaas hier nadat hulle oorbodig by 'n firma in Mosselbaai verklaar is. Sy is 'n "Sibley-Opperman" en het haar reg tot grond so aangeneem. Tans boer hulle op 44 ha, maar hoop om ook 260 ha ná die herverdeling te hê. Hulle het 30 swartkopdorpers en een koei en kalf.
Sy het die kursus bygewoon om meer inligting te kry en om "te weet hoe om te begroot".
|