'n "Opper" of "affer" vir Oppermansgrond?
 Marlene Smith, Landbouweekblad, 26 Augustus 2005
msmith@landbou.com
Herverdeling bedreig die erfgrond en voortbestaan van 'n Griekwa-boerderygemeenskap in die Suidwes-Vrystaat.
Elkeen kry 'n gelyke deel

Toe die Oppermansgronde in 2003 teruggegee is, was sowat 900 gesinne begunstigdes. Al die grond is nog in die naam van Oppermans se eiendoms-vereniging geregistreer, maar die plan is dat elkeen uiteindelik die kaart en transport van sy eie stukkie grond sal kry.

Om die grond regverdig te verdeel, het die leiers van die eiendomsvereniging besluit die veeplase waarop al die jare nog geboer is, moet nou herverdeel word om elkeen 'n gelyke deel te kan gee. Dit beteken dat 'n vroeëre verdeling van plase (van net 'n paar hektaar tot meer as 1 000 ha) verander word sodat elkeen uiteindelik sowat 260 ha sal besit.

Buiten dat 'n veeboer beswaarlik in die Suidwes-Vrystaat se droë bossieveld 'n bestaan op so 'n lappie grond kan maak, is talle Oppermanners diep bekommerd oor die omgewingskade wat dit noodwendig gaan meebring.

Een van hulle is mnr. Attie Smith (64) van die plaas Wapadsdam. Hy boer sy lewe lank met skape op Oppermans nadat hy die plaas van sy pa oorgeneem het.

Twintig jaar gelde het hy nog op meer as
1 000 ha geboer, maar dit het intussen tot net 'n ietsie oor die 600 ha gekrimp namate hy van sy grond aan nuwe intrekkers moes afstaan.

Sedert die 1990s het al hoe meer van die nageslag wat vroeër op ander plekke 'n bestaan gevoer het, Oppermans toe begin terugtrek. Baie van hulle is afgetredenes wat met hul pensioen 'n boerdery begin.

Vir boere soos Smith beteken die jongste herverdeling niks minder as rampspoed nie. Hy sê hy het vroeër 'n goeie bestaan op Oppermans gevoer, maar namate hy van sy grond moes afstaan, het dit al hoe slegter gegaan.

Hy kan nie sien hoe 'n veeboer daar op 260 ha kan oorleef nie. "Hoe gaan jy 'n lewe uit 80 ooie kan maak? En die veld sal vreeslik uitgetrap raak."

Sy eie kinders sou graag die boerdery wou oorneem, maar soos dinge nou lyk, "is daar nie 'n kans vir hulle nie". Hulle moes uitspring om elders 'n bestaan te gaan maak.

Wat gedoen moet word, weet Smith nie. Die herverdeling word dan juis as oplossing voorgehou vir die botsende grondbehoeftes van die groeiende aantal Oppermanner-boere, almal met klaarblyklik gelyke regte.
Salomo Frederik Opperman, gebore in 1786 en oorlede in 1892, het in sy wysheid ses plase wes van Koffiefontein in die Vrystaat vir sy nasate agtergelaat.  Dié 34 000 hektaar mog nooit "verkopen, verbinde, verruilen, verhuren, verpachten, of anderzins direct of indirect vervreemde of beswaren" word nie, het sy testament bepaal.
Nou, meer as 'n eeu later, het die Oppermanners weer die wysheid van 'n Salomo nodig om hul plase vir hul nasate te bewaar. Die groeiende nageslag se grondbehoefte dreig om in 'n ekologie- en maatskaplik-ekonomiese ramp vir dié Griekwa-boerderygemeenskap te ontaard.
Drie jaar gelede het die Oppermanners hul grond amptelik van die Kommissie vir die Herstel van Grondregte teruggekry nadat dit meer as 40 jaar gelede deur die regering vervreem is. Die regering het die grond 'n ruk lank in trust gehou en in 1961 as 'n gebied vir bruinmense geproklameer.
Toe dit in April 2003 aan die gemeenskap teruggegee is, was dit die afhandeling van die grootste enkele grondeis in dié provinsie.  Die Departement van Grondsake het meer as R4 miljoen opgedok.
'n Plaas daar naby, Rorichshoop, met 4 000 ha weiding en 173 ha besproeiingsgrond, is intussen ook met grondhervormingsubsidies vir die Oppermanners gekoop.
Die Vrystaatse Departement Landbou het voorts R15 miljoen vir die ontwikkeling van 240 ha se besproeiing-infrastruktuur op die Oppermansgronde bewillig. In 'n beoogde besproeiingsprojek gaan 'n groep nuwelingboere elkeen 'n spilpunt op sowat 10 ha kry.  Dit is die provinsiale departement se grootste enkele projek.
Op die oog af lyk dit dus op die Oppermanners net vooruit kan boer. Gesoute Oppermanner-boere is egter bekommerd dat herverdeling – 'n gevolg van die restitusie-transaksie – hul erfgrond binnekort in 'n woestyn gaan omskep. Want Salomon Opperman se vyf kinders, een seun en vier dogters, het intussen tot 'n groot nageslag gegroei, van wie al hoe meer op Oppermans wil woon en boer.
Mnr. Reggie Sibley, een van Oppermans se suksesvolste boere, sê hy gaan waarskynlik binnekort sy tentpenne moet uittrek omdat die stelsel waarin kommunaal oor grond besluit word, hom nie toelaat om vooruit te boer nie.
"Ek wil nie graag my penne hier uittrek nie, maar dit kan nie anders nie. Die groepstelsel is soos 'n ketting waaraan die staat ons soos 'n hond vasketting. Dit kan net nie werk nie."
Oor die herverdeling sê Sibley: "Oppermans se mense kan nie vooruitgaan met 260 ha nie. Nooit!"
Mnr. William Barnes, hoof van die Vrystaatse departement van landbou en self 'n gebore en getoë Oppermanner, deel dié vrees. Hy beoog om die kwessie met die Departement van Grondsake te bespreek.
Die ideaal sou wees om eerder minder boere te vestig, sê Barnes.  Maar wat word dan van die groot aantal Oppermanners wat ook aanspraak maak, maar vir wie daar nie genoeg grond is nie?
Nog 'n probleem is dat die kriteria vir grondtoekenning nie altyd konsekwent is nie. Voorligters van die Departement Landbou lewer wel 'n bydrae wanneer die toekenningskriteria saamgestel word. Hulle beveel aan dat mense met vorige boerderyondervinding voorkeur geniet, "maar hier gaan dit oor regte. Party sê ons het niks, hoe kan dié wat reeds het, dan nog meer kry?" verduidelik Barnes.
Dieselfde geld dié gemeenskapslede wat op die lys is om 'n besproeiingsperseel te kry. Een vereiste is dat hulle nie 'n ander heenkome (soos 'n veeplaas) mag hê nie.
Sibley meen egter dié wat hulself al bewys het, moet eerder gehelp word. "Ek is 'n gebore Oppermanner, en ek het nie 'n verhewe reg bo ander nie. Maar ek het die vermoë gehad om my reg suksesvol te benut", sê hy.
Barnes sê sy departement berei homself wel voor om intensiewe opleiding aan die nuwelingboere te gee. Die beleid is dus om elkeen 'n gelyke kans te gee om homself te bewys en 'n sukses van sy boerdery te maak.
Maar sal dit genoeg en betyds wees om Oppermansgronde vir die Oppermanner-nasate te bewaar? Andersom, in die spreektaal van Oppermans se veteraan-inwoners: Gaan dit die gemeenskap weer soos in die goeie ou dae" opper" maak, of gaan hulle net verder die pad "affer volg?
Dit is 'n ope vraag hoe lank Oppermans nog 'n produktiewe toevlug sal bly vir die nageslag van die "grootvader" Salomon.  Dié het, volgens oorlewering, tussen twee en drie eeue gelede "in 'n strydwa saam met Koning Kok (die Griekwa-leier Adam Kok III)" uit die ou Kaap getrek en uiteindelik vir hom en sy familie 'n plekkie onder die Wes-Vrystaatse son uit geboer.
'n Groep boere van Oppermans tydens die kursus
oor finansiële bestuur wat deur die Sentrum vir Landboubestuur
aangebied is.