Evaluering van die Verskillende Metodes om Bestuursones
te Identifiseer in die Sentrale Akkerboustreek  

Zeilinga, V., Nell, W. T. & Le Roux, P. A. L.
Hierdie artikel is gegrond op die navorsing wat deur Vorster Zeilinga in 2004 gedoen is vir sy M.Agric.-skripsie in Landboubestuur.  
Navorsing is gedoen om vas te stel watter verskillende metodes in die sentrale akkerboustreek gebruik en aanbeveel word om bestuursones te identifiseer. Die metodes se voor- en nadele is geëvalueer om die ekonomiese en finansiële implikasies vas te stel. Daar is ook gekyk na die koste van elke metode en toerusting, misstofaanpassings, benaderings wat deur die organisasies gevolg is en die opbrengsverhoging/verlaging wat verkry is deur boere in die praktyk nadat presisieboerderypraktyke geïmplementeer is.
INLEIDING
Suid-Afrikaanse boere ervaar aanhoudende druk as gevolg van verhoogde koste en blootstelling aan internasionale markte, daarom is dit belangrik dat boere insette moet optimaliseer en/of produksiekoste verlaag om finansieel suksesvol te wees (Ferreira, 1999:26-27). Een van die maniere om dit te behaal, is deur middel van presisieboerdery. 'n Presisieboerderystelsel bestaan uit verskillende tegnologiese komponente. Die komponente bestaan uit verskillende metodes om bestuursones te identifiseer, verskillende maniere en toerusting om die bestuursones differensieel vir insette te bestuur, asook 'n opbrengsmonitor om die resultate te kan kontroleer en evalueer (Khanna, Epouche & Hornbaker, 1997:455-472).  Onsekerheid bestaan by boere omdat hulle nie weet wat die wetenskaplik gepaste of mees ekonomiese metode is om bestuursones vir hul spesifieke boerderyondernemings te identifiseer nie. Die onsekerheid bestaan omdat verskillende metodes en toerusting nie gelyktydig gebruik hoef te word om die doelwitte van presisieboerdery na te streef nie (Matela, 2002:73). Omstandighede verskil ook van een boerderyonderneming tot 'n ander, wat tot verdere onsekerheid lei.
Verskillende organisasies betrokke by presisieboerdery skryf elkeen sy eie kombinasie van metodes voor om bestuursones te identifiseer. Hierdie verskille, tesame met die gevorderde tegnologie wat in presisieboerdery gebruik word, het 'n tegnologiese gaping in die praktyk veroorsaak. Die huidige landboukundige verstandhouding, ekonomiese skattings en betroubare metodes wat in die praktyk gebruik word, neem nie dié tegnologie in ag nie. Hierdie gaping kan egter oorbrug word wanneer verskaffers van toerusting, spesialiste op die gebiede van landboubestuur, agronomie, grondkunde en boerderyondernemings bymekaarkom om saam 'n oplossing te vind (Matela, 2002:79).
Schilfgaarde (1999) het bevind dat die koste van investering verhoog wanneer met presisie boerderytegnologie begin word, wat identifisering van bestuursones insluit. Die verhoogde koste van investering kan presisieboerdery ontoeganklik maak vir kleiner boere. Vir die suksesvolle aanneming en implementering van metodes om bestuursones te identifiseer, behoort die benaderings van die verskillende landbou-organisasies gestandaardiseer word om te verhoed dat boere wat nie oor die nodige ervaring en kennis beskik nie, addisionele uitgawes aangaan met die implementering van die verskillende benaderings van presisieboerdery. Boere kan belangstelling verloor in presisieboerderytegnieke, wat 'n nadelige effek op die groei van die land se ekonomie kan h omdat die kommersiële boer 'n belangrik rol daarin speel (Matela, 2002:79).
In Suid-Afrika is daar nog geen studies gedoen wat die kostevoordeel van die identifisering van bestuursones weerspieël nie. Daarom is potensiële aannemers van dié tegnologie nog nie gereed om oor te skakel nie. Onsekerheid of presisieboerdery wel 'n kostevoordeel gaan inhou, weerhou potensiële aannemers om in dié tegnologie te investeer (Matela, 2002:80).
In 'n veranderlike eksterne omgewing is inligting uiters noodsaaklik om goeie boerderybesluite te neem (Van Rooyen, 1998:40-43). In hierdie studie is gepoog om die gaping tussen die boer en metodes om bestuursones te identifiseer, te verklein. Die boer moet weet watter komponente en metodes gebruik kan word en in watter kombinasies dit ge mplementeer kan word. Resultate wat reeds deur boerderyondernemings in die praktyk verkry is deur die verskillende metodes, word ook ondersoek. Verskille in opbrengs en bemesting kan gekwantifiseer word sodat 'n boer kan aflei wat met die metodes verkry is sodat 'n ingeligte besluit geneem kan word oor die metode wat hy wil gebruik om bestuursones te identifiseer.  
NAVORSINGSMETODE EN DATAINSAMELING
Gevallestudiemetode
Statistiese analise van 'n probleemarea kan belangrike en bepalende faktore identifiseer, maar om te bepaal watter verwantskap die faktore in 'n werklike situasie op mekaar het, is dit nodig om 'n spesifieke geval sistematies onder 'n vergrootglas te ondersoek. Hierdie sistematiese ondersoek van 'n spesifieke situasie word 'n gevallestudie genoem (Nisbet & Watt, 1978:5). Gevallestudie is 'n standaard prosedure wat gevolg word vir navorsing in die velde van regte, mediese ondersoeke en besigheidsituasies. Hierdie navorsingsmetode word sedert die vroeë 1950’s gebruik (Nisbet & Watt, 1978:9).     
Die gevallestudiemetodiek is deel van die kwalitatiewe navorsingsmetode en word gedefinieer as die stelselmatige proses om inligting (data) in te samel en te analiseer sodat 'n beter verstandhouding of verhoogde kennis verkry kan word oor 'n verskynsel of situasie wat die navorser interesseer (Leedy, 2001:4).
'n Gevallestudie is 'n gepaste navorsingsmetode om te gebruik wanneer 'n situasie nie net beskryf of ondersoek wil word nie, maar die verhoudings wat in die situasie voorkom, wil aantoon. Dit gee die navorser die kans om 'n situasie of verskynsel in diepte te ondersoek sodat 'n beter begrip verkry kan word van 'n situasie of verskynsel waarvan voorheen min of geen kennis opgedoen is (Yin, 1993:31).
Monsterkeuring en monstergrootte
Sewe organisasies in die Vrystaat is ge dentifiseer wat dienste in presisieboerdery lewer. Die organisasies wat betrokke is by die implementering van presisieboerdery met boere is ge dentifiseer met die hulp van me Maine (née Matela) wat reeds navorsing in presisieboerdery gedoen het en verbonde is aan die Universiteit van Vrystaat. Die hulp van ander landboukundige organisasies, landboukoöperasies, kunsmismaatskappye, saadmaatskappye en landbou-toerustingverskaffers is ook gebruik. Die verskillende organisasies is gekontak en afsprake vir onderhoude is gereël. Vyf van die onderhoude was persoonlik en met twee is telefoniese onderhoude gevoer. 'n Vraeboog is vir die onderhoude gebruik. Die vraeboog bestaan slegs uit leidende aanvangsvrae, wat opgevolg is met meer uitgebreide vrae. Na die onderhoud is 'n verslag geskryf en per e-pos aan die persone met wie onderhoude gevoer is, gestuur. Die persone kon die feite nagaan en veranderinge aanbring indien foute voorgekom het of meer inligting verskaf moes word.
Die boere met wie onderhoude gevoer is, is deur die organisasies wat betrokke is by presisieboerdery, ge dentifiseer. Elf boere wat reeds besig was met die toepassing van differensiële toediening van insette en monitering van opbrengste en wat bereid was om deel te neem aan die navorsing, is ge dentifiseer om gepaste inligting te verskaf. Vraelyste is per e-pos of faks aan die geselekteerde boere gestuur sodat hulle vooraf ingelig sou wees oor wat met die onderhoude van hulle verwag sou word. Die meeste van die onderhoude is telefonies gedoen en net 'n paar boere is persoonlik besoek. Na die onderhoude is die vraelyste verwerk en enige vrae wat nog ontstaan het, is deur telefoniese gesprekke of per e-pos hanteer. Die getal boerderyondernemings wat in die onderskeie jare met presisieboerdery begin het, word met die simbool n in figuur 1 aangetoon (n = getal boerderyondernemings).
Die meeste van die respondente het in 2002 met presisieboerdery begin. Een boer het twee verskillende boerderyondernemings waar presisieboerdery beoefen word.1 Van die boerderyondernemings het al vroeër met komponente van presisieboerdery begin, maar het eers in 2002 bemesting begin varieer volgens opbrengspotensiaal van die bestuursones.
Figuur 1:  Aanneming van presisieboerdery
Metode van data-analise en -aanbieding
Die inligting van die verskillende organisasies soos deur die vraeboog verkry, word in 'n beskrywende formaat bespreek. Die verslag het 'n inleidende begin waar agtergrond oor die organisasies verskaf word. Die verskillende metodes, beskrywing, praktiese benadering, koste en voor- en nadele van elke metode wat deur die organisasies gebruik word, word bespreek. Die verskillende bemestingbenaderings en koste verbonde aan die verskillende metodes, word in 'n tabelvorm voorgestel.
Die inligting van die boere is met behulp van 'n Excel-sigblad verwerk waarna dit in 'n beskrywende verslag aangebied is om die verskille in opbrengs en bemesting uiteen te sit. Die opbrengsverskille en misstofaanpassings vanaf die konvensionele verbouingspraktyke na presisieboerdery, is statisties met die gepaarde t-toets vir twee steekproefgemiddeldes geanaliseer om vas te stel of die implementering van presisieboerdery die oorsaak van die verskille was.
RESULTATE
In hierdie referaat word verwys na konvensionele verbouingspraktyk as die produksieproses voordat presisieboerdery ge mplementeer is.
Identifisering van metodes
Presisieboerdery word beskou as die praktyk waar 'n land nie homogeen bestuur word nie, maar as verskillende bestuursones, wat in opbrengspotensiaal van mekaar verskil. Met presisieboerdery is dit nou prakties moontlik om elke bestuursone, ongeag die grootte daarvan, volgens potensiaal te bestuur. Vier metodes word gebruik om bestuursones te identifiseer:
Ruitopnames waar grondopnames en grondvrugbaarheidontledings op ‘n ruitpatroon gedoen word. Die intensiteit van waarnemings wissel tussen een waarneming per hektaar (100 m by 100 m) en een waarneming per hektaar (200 m by 200 m). Hoe groter die grondvariasie, hoe kleiner word die ruitpatroon.
Grondopnames word gedoen wanneer grond geklassifiseer word volgens permanente grondeienskappe. Grondopnames beskryf die ruimtelike variasie in permanente grondeienskappe wat voorkom en word eenmalig gedoen.
Die grondvrugbaarheid (chemiese grondeienskappe) van die grond word bepaal deur die grond vir verskeie makro- en mikro-elemente te ontleed. Die behoefte aan 'n herhaling van dié opname is groot en dit word gewoonlik na twee of drie jaar gedoen om die mate van regstelling te monitor.
Opbrengsmonitors lewer opbrengskaarte met elke oes. Die seisoen, agronomiese praktyk en veranderlike grondeienskappe verskil egter elke jaar en veroorsaak dat die opbrengskaarte vir elke oes verskil.
Afstandbeelde gee 'n aanduiding van die aktiwiteit en bedekking van plantegroei; ongelukkig nie van die gewas alleen nie, maar ook van die onkruid. Afstandbeelde word verkry met sattelietbeelde of vliegtuig lugfoto’s wat geneem word.
'n Elektrokonduktiwiteitmasjien wat 'n aanduiding van variasie in die elektriese geleiding van grond gee.
“Smart-sampling” is 'n alternatief vir grondmonsterinsameling vir grondvrugbaarheidbepaling op 'n ruitpatroon. Hiermee word die bestuursones wat vooraf ge dentifiseer is, gemonster deur ‘n verteenwoordigende monsters te trek in elke sone. Dit vind veral byval met opvolgende monsterneming. In figuur 2 word die verskillende metodes wat gebruik was om bestuursones te identifiseer uiteengesit.
Figuur 2:  Metodes gebruik om bestuursones te identifiseer
Al die boere wie se data gebruik is, het op een of ander stadium in die presisie boerderyproses 'n ruitopname gebruik om die grond se permanente eienskappe en/of grondvrugbaarheidstatus vas te stel. Ruitopnames is nie deur al die boerderyondernemings in die begin gebruik om bestuursones te identifiseer nie. Ruitopnames is eers op 'n latere stadium in die presisieboerderyproses ge mplementeer. Die moontlike rede hiervoor is dat die veranderlike faktore te groot was om die verskille in die opbrengste te verklaar. Probleemareas wat nog bestaan, kan makliker ge dentifiseer en reggestel word nadat die opbrengspotensiaal bepaal en die grondvrugbaarheid van die grond reggestel is.
Die meeste van die metodes om bestuursones te identifiseer, is in kombinasie met mekaar gebruik om beter inligting oor die eienskappe en potensiaal (figuur 3) van die grond te verkry.
Figuur 3:  Kombinasie van verskillende metodes om bestuursones te identifiseer
Die kombinasie van ruitopnames saam met opbrengsmonitors gebruik is, is die meeste deur die boere gebruik. Ruitopname met opbrengsmonitors is die kombinasie wat ook deur die meeste organisasies aanbeveel word. Vyf-en-twintig persent van die boere het ‘n kombinasie gebruik waar ruitopnames, opbrengsmonitors en satellietbeelde gebruik is om bestuursones te identifiseer. Volgens die verskillende organisasies is dit die mees gepaste kombinasie om die bestuursones die akkuraatste te identifiseer, maar ook die duurste.
Koste van metodes en toerusting om bestuursones te identifiseer
Die koste hang af van die verskillende toerusting wat deur die organisasies gebruik word. Die prys en bekombaarheid van die toerusting speel die grootste rol hoekom dit deur die organisasies gebruik word. Die toerusting (veranderlike bemestingimplemente [VRA] en opbrengsmonitors) word hoofsaaklik uit Australië, die VSA en Kanada ingevoer en is onderworpe aan veranderings in wisselkoerse. Ten tyde van die insameling van inligting vir hierdie studie (Maart 2003), was die wisselkoers ongeveer R8,00:$1 en R4,95:Au$1.
In tabel 1 word die koste van die verskillende metodes wat gebruik word om bestuursones te identifiseer, asook die toerusting en koste daarvan, uitgesit.
TABEL 1: KOSTE VAN METODES EN TOERUSTING OM BESTUURSONES TE IDENTIFISEER
Metodes
Toerusting
Prys
Ruitopname1
Grondopname
Grondopname
R35 tot R60 per hektaar
Vrugbaarheids-ontledings
Grondmonsterneming en ontleding
R47 tot R85 per hektaar
Opbrengskaarte
Opbrengsmonitors
R56 000 en R70 000
Afstandbeelde
Satellietbeelde
R2 200 vir eerste 500 ha enn daarna R4,40 per hektaar
Vliegtuigfoto's2
R12 en R20 per hektaar per vlug
EC-kaarte
EC-masjien3
R40 per hektaar
1 Grootte van ruitpatroon wissel tussen een en vier hektaar per waarneming.
2 Addisionele R150 per land word gevra om die kaarte te verwerk.
3 Huurkoste van implement.
“Smart sampling” se koste word bepaal deur die hoeveelheid grondmonsters wat per bestuursone ingesamel word. Die ontledingskoste beloop tussen R71 en R80 per grondmonster.
In tabel 2 word die drie bemestingsimplemente, asook die koste van elk een uiteengesit, wat gebruik word om bemesting differensieel toe te dien.
TABEL 2:   BEMESTINGIMPLEMENTE EN KOSTE WAT VIR DIFFERENSIËLE BEMESTING MET PRESISIEBOERDERY GEBRUIK WORD
Toerusting
Prys
Veranderlike bemestingimlement (VRA)
R148 4651
Planter wat differensieel bemes
Omgeboude planter
R60 000–R70 0001
Aangekoopte planter
R467 146–R572 3632
Kalkstrooier wat omgebou is om differensieel te bemes     
R60 000–R67 0003
1 Net een misstof word differensieel toegedien.
2 Koste wissel tussen planters wat een tot drie misstowwe differensieel kan toedien.
3 Die kalkstrooier se koste self is nie in berekening geneem nie, maar enige strooier kan omgebou word indien die openinge of bandspoed hidroulies beheer kan word.
Twee ander maniere is ook gebruik om misstowwe differensieel toe te dien, naamlik:
die gebruik van 'n GPS waar die bestuursones vooraf met vlaggies gemerk word, waarna misstowwe met 'n standaard kalkstrooier of bemestingimplement toegedien word; en
waar elke land as 'n afsonderlike bestuursone hanteer word en die planter herkalibreer word soos dit van een land na die ander beweeg.
Indien die toerusting in kombinasie met mekaar gebruik word, kan die koste met R17 000 verlaag omdat toerusting soos die GPS, rekenaarhardeware en -sagteware nie weer aangekoop hoef te word nie en oor en oor gebruik kan word op die verskillende toerusting.
Die aanvangskoste van presisieboerdery word as die grootste nadeel beskou, maar die koste kan verlaag word indien toerusting gehuur word. Op dié manier kan die aanvangskoste met presisieboerdery versprei word.
Bemesting en opbrengsveranderinge
In die artikel word net die bemesting en opbrengsveranderinge wat met mielies op droëland verkry is, gebruik.
Opbrengsveranderinge
'n Opbrengsverhoging wat in al die jare met presisieboerdery verkry is, word in figuur 4 uiteengesit.
Figuur 4:  Opbrengste van mielies
Al het elke jaar met presisieboerdery 'n verhoging in opbrengs getoon, was dit net die derde jaar se opbrengs wat 'n statisties betekenisvolle verskil (p=0,036) tussen die konvensionele verbouingspraktyke en presisieboerdery gelewer het. Die verhoging in opbrengs tot en met die derde jaar toon dat die insette (bemesting, saad, chemiese middels vir onkruide en plae) met presisieboerdery moontlik meer effektief aangewend is. In jaar 3 is die hoogste opbrengs verkry met dieselfde reënval as in die konvensionele jaar. Hierdie opbrengs was 1,2 ton per hektaar hoër. In die vierde jaar was die opbrengs met presisieboerdery steeds hoër as die konvensionele praktyk, ten spyte van 'n laer reënval.
Volgens Burger (2003) verhoog die opname van die misstowwe in die tweede jaar van presisieboerdery indien in korrelvorm toegedien word, omdat dit dan eers deur bewerkingspraktyke goed genoeg met die grond vermeng word. Indien dit in 'n vloeibare vorm toegedien word, word dit al in die eerste jaar effektief deur die plante opgeneem. Die vrugbaarheid word oor 'n termyn opgebou en dit is moontlik een van die redes waarom die opbrengste van die boerderyondernemings vanaf jaar een verbeter het, maar eers in jaar drie statisties betekenisvol hoër was.
Bemestingaanpassings
In figuur 5 word die verskillende bemestingpeile wat tydens die presisieboerderyfase toegedien is, voorgestel.
Figuur 5:  Bemesting met presisieboerdery
Met presisieboerdery is betekenisvol meer stikstof-, fosfor- en kaliumbemesting toegedien teenoor die konvensionele verbouingspraktyk. Stikstofbemesting het verhoog in die eerste drie jaar. 'n Moontlike rede hiervoor is dat die boerderyondernemings hoëpotensiaalgrond algaande al hoër bemes het omdat die opbrengsverhoging wat verkry is, hoër as die opbrengsmikpunt geneig het.
Die fosfor- en kalium bemesting het in die eerste jaar hoër geneig as in die tweede jaar en die moontlike rede hiervoor is dat groot tekorte in die eerste jaar reggestel is. Die bemesting het vanaf die tweede tot die vierde jaar gestyg, waarskynlik omdat vir hoër opbrengste bemes is.
In figuur 6 word die effektiwiteit van die bemesting wat toegedien is nadat VRA-tegnieke ge mplementeer is, voorgestel.
Figuur 6:  Effektiwiteit van bemestingstowwe toegedien
Stikstof word skynbaar meer effektief gebruik met presisieboerdery.  Met die verhoogde toediening van stikstof is in die tweede en derde jaar dieselfde en minder stikstof, per ton mielies gestroop, toegedien (18 kg/ton mielies – konvensioneel, 18,6 kg/ton – eerste jaar, 18 kg/ton – tweede jaar, 16,6 kg/ton – derde jaar en 22 kg/ton – vierde jaar. Laasgenoemde is hoër as gevolg van die lae reënval). Die meer effektiewe gebruik van stikstof kan moontlik toegeskryf word omdat laepotensiaalgronde nie oorbemes word nie, en die hoëpotensiaalgronde nie onderbemes is nie. Dít word deur die boerderyondernemings as die grootste voordeel van presisieboerdery gesien. In 'n normale jaar met 'n gemiddelde reënval het die opbrengsmikpunte waarvoor bemes is, gerealiseer, wat 'n aanduiding is dat die misstowwe wat toegedien is, meer effektief benut is.
Die verhoging in toediening van fosfor en kalium per ton kan toegeskryf word aan die verhoogde opbrengsmikpunte. Die verhoogde opbrengste wat met presisieboerdery verkry is, dui moontlik daarop dat fosfor en kalium meer optimaal toegedien word en nie onderbemes word soos met die konvensionele verbouingspraktyke nie.  
In tabel 3 word die persentasie verandering in bemestingkoste nadat VRA ge mplementeer is, uiteengesit.
TABEL 3: PERSENTASIE VERANDERING IN BEMESTINGSKOSTE
Verandering in bemestingskoste/ha met presisieboerdery
Gemiddelde  verandering in bemestings-
koste/ha/jaar
Jaar 1
Jaar 2
Jaar 3
Jaar 4
Boer 1
24,6%
24,6%
Boer 2
15,5%
15,5%
Boer 3
0%
0%
Boer 4
16 September 200419,4%
19,4%
Boer 5
129,2%
129,2%
Boer 6
8,5%
0,7%
4,6%
Boer 7
8,4%
8,2%
8,3%
Boer 8
0%
0%
0%
0%
Boer 9
-44,0%
-44,0%
-39,7%
-42,6%
Boer 10
37,8%
24,4%
14,6%
25,6%
Boer 11
130,4%
143,8%
69,8%
134,3%
Boer 12
116,5%
116,5%
47,2%
47,2%
93,4%

Die meeste boerderyondernemings het 'n verhoging in bemestingkoste gehad, met die uitsondering van drie boerderyondernemings. Twee van hierdie drie boerderyondernemings se bemestingkoste het dieselfde gebly en een het verlaag.
Kalktekorte per bestuursone is uitgewys nadat die grond se vrugbaarheid ontleed is. Op die sones wat tekorte getoon het, is kalk optimaal toegedien. In tabel 4 word die gemiddelde kalktoediening per hektaar voordat met presisieboerdery begin is, vergelyk met die gemiddelde toediening per hektaar tydens presisieboerdery.
TABEL 4:  DIE VERANDERLIKE TOEDIENING VAN KALK MET PRESISIEBOERDERY
Boerdery- onderneming
Gemiddelde kalktoediening voor presisie-boerdery (ton/ha)
Gemiddelde kalktoediening met presisieboerdery (ton/ha)
Persentasie
verlaging in kalkbemesting
Minimum toegedien
(ton/ha)
Maksimum toegedien
(ton/ha)
1
3
0.8
73 %
0.3
2.2
2
2
2.0
0 %
0.5
3.2
3
2
2.0
0 %
0.5
3.2
4
2
1.7
15 %
  0.65
3.0
5
2
0.6
70 %
0.5
  3.25
6
2
2.0
0 %
1.0
4.0
7
2
1.2
40 %
0.5
3.5
8
3
1.7
43 %
0.0
0.0
9
2
1.7
15 %
0.5
4.0
10
2
3.7
-85 %
0.46
6.0
11
2
1.2
40 %
0.5
3.5
Gemiddeld
19,2%
Die totale besparing wat verkry is teenoor die vorige kalktoediening, is 19,2%. Die grootste besparing per boerdery-eenheid was 73,3% en die laagste was 15,0% (tabel 4). Net een boerderyonderneming het 'n verhoging in die toediening van kalk verkry omdat die grond baie suur was en meer kalk as voorheen toegedien moes word.  Dit dui op ongewone agteruitgang van vrugbaarheid wat nie jaarliks voorkom nie. Indien hierdie syfer buite berekening gelaat word, is die besparing wat deur die ander boerderyondernemings verkry is, 30%.
Verandering in bemestingsmarge
Die ekonomiese voordeel of nadeel wat deur die boerderyondernemings verkry is, word uitgedruk as 'n marge bo of onder bemestingskoste (bemestingsmarge). Bemestingmarge is die bruto produksiewaarde minus die bemestingkoste. Die verandering in bemesting marge wat met presisieboerdery verkry is, word bereken deur die konvensionele verbouingspraktyk se marge van presisieboerdery se marge af te trek en te deel deur die konvensionele verbouingspraktyk se marge, uitgedruk as 'n persentasie (R3 843 – R3 468 = R375 ÷ R3 468 x 100 = 10,8%). In tabel 5 word die bemestingsmarge van die verskillende boerderyondernemings uiteengesit.
TABEL 5:   DIE VERHOOGDE/VERLAAGDE BEMESTINGSMARGE VAN MIELIES WAT MET
PRESISIEBOERDERY VERKRY IS
Boerdery-eenheid
Verandering in bemestingsmarge/ha
(%)

Gemiddelde verandering
in bemestings-marge/ha/jaar
Jaar 1
Jaar 2
Jaar 3
Jaar 4
1
10,8%
10,8%
2
9,8%
 9,8%
3
-47,5%
-47,5%
4
2,4%
2,4%
5
24,7%
24,7%
6
24,8%
-9,7%
7,6%
7
-6,5%
10,8%
2,2%
8
43,4%
53,4%
30,0%
42,3%
9
82,4%
254,8%
37,0%
124,7%
10
-1,1%
7,6%
30,1%
12,2%
11
62,5%
2,8%
63,4%
42,9%
12
17,5%
-28,7%
81,8%
21,4%
23,0%
Met die uitsondering van een boerderyonderneming, het al die boerderyondernemings 'n verhoging in bemestingmarge gekry. Die enigste daling was 'n boerderyonderneming wat in die eerste jaar van presisieboerdery 'n swak jaar as gevolg van 'n lae reënvaljaar gehad het.
GEVOLGTREKKING
Twee faktore word hoofsaaklik in ag geneem met die keuse van 'n metode of kombinasie van metodes om bestuursones in die sentrale akkerboustreek te identifiseer, naamlik die omgewing waarin die boerderyonderneming geleë is en/of die koste verbonde aan die verskillende metodes van bestuursone-identifikasie.
Die omgewing waarin die boerderyonderneming geleë is, speel 'n rol in die keuse van die metode wat gevolg word om bestuursones te bepaal, omdat die variasie in grondtipes van die weste na die ooste van die sentrale akkerboustreek toeneem en dit 'n invloed het op die grootte van die bestuursones. Meer grondtipes lei tot meer bestuursones, wat meer effektiewe metodes vereis om die bestuursones so akkuraat moontlik te identifiseer. Dit is hoekom byvoorbeeld 'n kombinasie van 'n ruitopname (permanente eienskappe en vrugbaarheid), 'n opbrengsmonitor en satellietbeelde in die ooste van die streek aanbeveel word. Hierdie kombinasie is word beskou as van die effektiefste manier om bestuursones akkuraat te identifiseer. In die weste word naastenby dieselfde effektiwiteit verkry deur slegs 'n opbrengsmonitor saam met 'n ruitopname (grondopname en grondvrugbaarheidopname) te gebruik. Die verskeie organisasies betrokke by presisieboerdery in 'n sekere gebied het elk ook sekere voorkeure ten opsigte van die metodes wat gebruik word.
Die organisasies neem ook die koste verbonde aan elke metode in ag. Indien voldoende finansies nie beskikbaar is om die mees gepaste metode of kombinasie van metodes te implementeer nie, word na goedkoper opsies gekyk. Die goedkoper opsies kan behels dat 'n sekere metode anders ge mplementeer word, byvoorbeeld om grondopnames op 'n groter ruitpatroon te doen of 'n ander kombinasie van metodes te gebruik wat goedkoper is. Koste word ook verlaag deur toerusting te huur eerder as om dit aan te koop.
Die verhoging in opbrengs wat deur die boerderyondernemings met presisieboerdery verkry is, was in die derde jaar betekenisvol. Presisieboerdery is 'n  stelselmatige proses. Die eerste bestuursones wat ge dentifiseer word, is tydelik en regstellings word gemaak om dit by ander sones in te sluit sodat dit vir die regte potensiaal bestuur kan word. Die resultate word jaarliks te geëvalueer. Met die evaluering van die resultate en aanpassing van bemesting, word daar al nader aan die optimale potensiaal van die permanente bestuursones beweeg.
Die jaarlikse aanpassing van misstowwe wat toegedien is, het tot die verhoging in benutting van stikstof gelei. Die moontlike rede hiervoor is dat die potensiaal van die grond onderskat is. Die beter benutting van die misstowwe lei tot hoër opbrengste en verhoogde boerderywins.
Die toepassing van presisieboerdery verhoog nie net die boerdery se winsgewendheid nie, maar die grond word ook beter bestuur, wat tot beter bewaring van die grond en die omgewing lei. Dit kan die volhoubaarheid van die landbou asook die toekoms van die nageslag verbeter.
BRONNELYS
Burger. C. 2003. Persoonlike onderhoud. Bestuurder van die presisieboerdery afdeling van Omnia. 21 Maart.
Ferreira, F. 1999. The precision farming approach. Koringfokus, Julie/Augustus, pp. 26-27.
Khanna, M., Epouche O. F. & Hornbaker R. 1997. Site-specific crop management; Adoption patterns and incentives. Review of Agriculture Economics, 21(2):455-472.
Leedy, P. D. & Ormrod, J. E. 2002. Practical research: Planning and design, 7th ed. New Jersey: Prentice-Hall.
Matela, N. 2002. The status of precision agriculture in cash crop production in South Africa. M.Agric. thesis, University of the Free State, Bloemfontein.
Nisbet, J. & Watt, J. 1978. Case study. University of Aderdeen: Rediguide 26: Guides in Educational Research.
Schilfgaarde, J. V. 1999. Is precision agriculture sustainable? American Journal of Alternative Agriculture, 14(1):43-46.
Van Rooyen, C. 1998. Beter inligting verminder risiko’s. Landbouweekblad, 20 Maart, pp. 40-43.
Yin, K. 1993. Applications of case study research. Applied Social Research Methods Series, Vol. 34. Newbury Park, London: InternatiFi9nonal Educational and Professional Publishers.
Zeilinga, V. 2004. Evaluering van verskillende metodes om bestuursones in die sentrale akkerboustreek te identifiseer. M.Agric.-skripsie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.